Musiek en Liriek : Coenie de Villiers (Songwrights 1983)

 

As die nag sy baadjie toeknoop oor die veld

en die diereriem sy blink tot teen die skerpioen laat lê;

as die tweeling en die kreef

kotteljons oor Beauford-Wes

en die maan sy beker skink oor Graaff-Reinet

 

Ruik jy katbos en kambro

as dit reën in die Kleinkaroo

My Hantamwind

My optelkind

vanaand  (x2)

 

In die môre as dit blou word

en die amber wolke roer

as die son sy eerste lig

oor die bitterboela stoot;

as die trein by Noupoort fluit

en dit wegraak in die wind

en ‘n tolbos iewers vaswaai teen die rant

 

Ruik jy katbos en kambro

as dit reën in die Kleinkaroo

My Hantamwind

My optelkind

vanaand  (X2)

Musiek & liriek:  Coenie de Villiers  (SAMRO, 2010)

 

Die betongewelf van die kapel

Word sy hemel, word sy hel

Waar hy daagliks met penseel

Sy visie van die heelal deel

 

Daar’s gerubs en orakels,

profete, en hy self

in dié hemel ingeskilder,

tuur af uit die gewelf

 

Snags drup kerse warm was

In sy oë, op sy kwas

Wat elke tint van elke kleur

Uit sy hande laat gebeur

 

Daar’s die roesrooi van Toskane

Daar’s die blou van hierdie lug.

Daar is groen soos nooit tevore

Hier teen die kerk se rug

 

En in die middel, daar reik God

Sy vinger na die mensdom uit,

na Adam, wat nou skaam en naak,

skugter uit sy slaap ontwaak

Die Skepper blaas na eeue

Steeds lewe in dié man

Wat namens ons wat opkyk

Sy asem blý ontvang

 

En kardinale wat sou opkyk

Ver benede op die vloer

Wéét hul sien ‘n wonderwerk,

word dadelik meegevoer

 

Deur die maestro wat uit pleister

En pigment ‘n hemel maak

Wat die Ware Meester naboots,

Wat iedereen diep raak

 

En in die middel, daar reik God

Sy vinger na die mensdom uit,

na Adam, wat nou skaam en naak,

skugter uit sy slaap ontwaak

Die Skepper blaas na eeue

Steeds lewe in dié man

Wat namens ons wat opkyk

Sy asem blý ontvang

Langs ‘n steeg in ou Valencia

Aan die sonkant van die straat

Is ‘n kroeg wat laataand oopmaak

Waar mens drink en mens kan praat

 

Daar is kerse op die tafels

Daar is wyn in elke  glas

Hulle voel antisipasie

Hulle weet sy gaan verras

 

Ja, almal wag gespanne

Op haar koms om kwart oor tien

Hulle’s hier om haar ontwil

Om die flamenco weer te sien

 

Om te hoor hoe klop haar hakke

‘n ritme op die vloer

Waar sy die volgepakte kroeg

In ekstase mee kan voer

 

Die vuur in die flamenco

Die vlam in haar kitaar

Die hitte van ‘n stiergeveg

Die corrida se gevaar

Die klap van kastanjette

En ‘n son wat bloedig brand

Oor haar hare ‘n mantilla

Van handgeweefte kant

Sy hou my so gevange

Terwyl sy om die tafel dans

Laat my glo sy sien my raak

Laat my glo ek staan ‘n kans

 

Die kurwes van haar lyf

Is gehul in swart tafsy

In die applous wat sy ontketen

Kan jy hoor sy word beny

 

Vir die passie in haar oë

Vir haar soepel lyf wat fier

Deur die pas van die flamenco

Herinner aan die stier

 

Wat moedig teen die matador

Die stryd oplaas verloor

En ‘n swaard getooi met blomme

Sy edel hart deurboor

 

Die laaste note eindig

In ‘n crescendo van kitaar

En al ken hul die flamenco

Glo hul die dans is alles waar

 

Die vuur in die flamenco

Die vlam in haar kitaar

Die hitte van ‘n stiergeveg

Die corrida se gevaar

Die klap van kastanjette

En ‘n son wat bloedig brand

Oor haar hare ‘n mantilla

Van handgeweefte kant

Sy hou my so gevange

Terwyl sy om die tafel dans

Laat my glo sy sien my raak

Laat my glo ek staan ‘n kans

Musiek en liriek:  Coenie de Villiers

 

‘n Den groei soet, en saggies

Sy lied is jonk, en vars

Hy groei vinnig-vinnig son toe

En jy hóór sy gom en hars

 

Kiaat is heelwat sterker

Sy grein is fyn, en dig

Ja, hy dwing die vakman boontoe

‘n fyn hand word verplig

 

Hout het mos sy eie lied

Hy sing as jy hom skaaf (x2)

En saag jy teen die grein in,

Word hout oneindig braaf (X2)

Hy verset hom teen die lem

Wat teen sy grein in beur

Wat die ritme van sy kwaste 

Vir ewig kom verbeur;

Wat die vlam van Sy ontwerp

Vir altyd kom versteur –

Ja, wat die Skrynwerker se Groot Ontwerp

Vir altyd kom versteur

 

Oliewenhout het vlamme

Wat om die kwaste strek

Sy lied is lig, én donker

Voor hy ‘n meubelstuk voltrek

 

Geelhout? Ja, wat kan ek sê

Dit rus in duisend vloere

Wat strek deur huise, wonings

Óm die mure se kontoere

 

Hout het mos sy eie lied

Hy sing as jy hom skaaf (x2)

En saag jy teen die grein in,

Word hout oneindig braaf (X2)

Hy verset hom teen die lem

Wat teen sy grein in beur

Wat die ritme van sy kwaste 

Vir ewig kom verbeur;

Wat die vlam van Sy ontwerp

Vir altyd kom versteur –

Ja, wat die Skrynwerker se Groot Ontwerp

Vir altyd kom versteur

My hart is soos ‘n kamera:

Obskuur, maar nietemin

‘n lens wat alles raaksien

Wat kan haat en kan bemin

 

My hart is dikwels heilig

Dog soms is hy profaan

Sy roete is onvoorspelbaar

Dis geheim waarheen hy gaan

 

My hart klop dus gesplyt

Tussen liefde en verwyt,

Tussen goed en tussen kwaad

Tussen trou, en selfs verraad

My hart swaai soos ‘n pendulum

Dis min dat hy verstil

Dis min dat hy tot rus kom

Om die liefde se ontwil

 

My hart is altyd soekend

Al weet hy hy’s reeds tuis

En al vra hy duisend vrae

Word hy weinig verder wys

 

My hart wil als takseer

Hy wil inkyk in my siel

Maar dit wat hy daar raakloop

Kan soms mateloos verniel

 

My hart klop dus gesplyt

Tussen liefde en verwyt,

Tussen goed en tussen kwaad

Tussen trou, en selfs verraad

My hart swaai soos ‘n pendulum

Dis min dat hy verstil

Dis min dat hy tot rus kom

Om die liefde se ontwil

Coenie de Villiers (©SAMRO/2016)

 

Versier my graf met skulpe

wat jy optel op die strand;

pak hul netjies uit in rye,

maak patrone op die sand

 

Ek’s gebore uit die branders,

ek’s gebore uit die see;

En dit wat hy nou neem,

het hy eenmaal ook gegee

 

Alles wat ek hier onthou

word deel van die koraal;

Deel van hierdie oseaan,

van die see se katedraal

 

Ek bewaar reeds vyf dekades

‘n see wat min vergeef;

‘n see wat soms net gee,

wat oor die skulpgruis vee

 

Ek ken die reën se sluier,

ek ken die son se brand;

Ek weet waar woon die visse

hier aan die see se rand

 

Nou roei ek oor ‘n dieper see

en ‘n Bootsman roei nou mee

ja, ek roei nie meer alleen nie,

oor hierdie vreemde weë

 

Hier is daar geen vis nie

Die kreef is lank reeds weg,

en waar ek eens die stuurman was,

Word ek opeens nou kneg

Woorde en musiek: Coenie de Villiers

 

By jou is ek nie bang nie

Maak dit alles tog weer sin

By jou is nagte veels te kort

En gemaak om te bemin

 

By jou dra ek nie maskers nie

Kan ek wees net wie ek is

En stroop ek elke laag af

Van die lewe se vernis

 

By jou word elke bloekombos

‘n orkes van duisend fluite

Wat soet en sag musiek maak

In die suidewind daarbuite

 

By jou sien ek die noorderlig

In die son wat sawens sak

Word die somerreën nog mooier

As dit snags val op my dak

 

By jou word elke bloekombos

‘n orkes van duisend fluite

Wat soet en sag musiek maak

In die suidewind daarbuite

 

By jou vind ek nog vrede

En stilte, soos dit hoort

By jou weet ek uiteindelik

Hoe dit voel om te behoort

 

CODA

 

By jou ken ek die antwoord

Op die vrae wat almal vra;

Word my las meteens tòg ligter,

Word dit maklik om te dra

Lyrics: Coenie de Villiers

Music: Coenie de Villiers/Leon Gropp © 2016 SAMRO 

 

They take us off the land,

send us to foreign shores;

Leave us all a-wondering

what the hell we’re fighting for

They send us off to countries

filled with blood and sand;

They say it’s not to die,

but just to lend a hand

They tell us it’s all innocent,

they tell us all their lies

It’s not the sun that I so mind –

it’s the shadows I despise

 

Every leader wants a war

to show what he is standing for:

That’s when children of our soil

come back wrapped in silver foil …

Every leader wants a war

Yes, every leader wants a war:

He will cut into the bone

for a conflict of his own

 

We shoot a desert flare

and it feels like Christmas cheer –

it dispels some of the distance,

it dispels some of the fear

We even sing some carols,

and then some childhood songs;

We sing them in hoarse voices

to try and right the wrongs

And so we all wear camouflage

with tags around the neck –

of course we mind being shot at,

but it’s the flies you have to check

 

Every leader wants a war

to show what he is standing for:

That’s when children of our soil

come back wrapped in silver foil …

Every leader wants a war

Yes, every leader wants a war:

He will cut into the bone

for a conflict of his own

 

When they sent us into combat,

when they sent us into war;

When they said it’s all OK – 

this thing you’re fighting for

But I can’t remember clearly,

I can’t remember why

I’ve been sent into the desert

and rubber-stamped to die

 

Every leader wants a war

to show what he is standing for:

That’s when children of our soil

come back wrapped in silver foil

Every leader wants a war

Yes, every leader wants a war:

He will cut into the bone

for a conflict of his own

Soggens staan sy op

En maak dan roosterbrood en tee

Eet staan-staan by die venster

Voor sy die potplant water gee

 

Sy sluit die deur noukeurig

Maar die posbus bly steeds leeg

Daar’s ’n herfswind in die strate

Dit word reeds winter in die steeg

 

Haar lessenaar is netjies

Daar’s net ’n nommer op die deur

Sy doen nougeset haar werk

Daar is min hier wat haar steur

 

Die nag is barmhartig

Hy kan geheime goed verbloem

Al die goed waaroor die mense

Jou in die lig verdoem

Die waarheid wat sy wegsteek,

Die geraamte in haar kas

Is toegevou in sneespapier:

Dis die trourok in haar kas

’n Skyfiemaan hang oor die stad

Die Skepper knip ’n nael

Die deernis van die donker

Beskerm haar verhaal

 

Haar middagete eet sy

Op ’n bankie in die park

Sy voer die duiwe wat bly fladder

Voor die man wat blare hark

 

Vanaand maak sy ’n bordjie sop

Wat sy dan voor die TV eet

Daar’s niemand wat haar pla nie

Daar is min wat van haar weet

 

Haar nagroom ruik na rose

Sy doof die lig om kwart voor tien

Dink die enkelbed waarin sy lê

Is al wat sy verdien

 

Die nag is barmhartig

Hy kan geheime goed verbloem

Al die goed waaroor mense

Jou in die lig verdoem

Die waarheid wat sy wegsteek

Die geraamte in haar kas

Is toegevou in sneespapier:

Dis die trourok in haar tas

’n Skyfiemaan hang oor die stad

Die Skepper knip ’n nael

Die deernis van die donker

Beskerm haar verhaal

Ek verken ‘n duisend boeke

Loop die spoor deur jare na

Elke antwoord baar ‘n vraag –

en daar is rééds ‘n duisend vrae

Maar ek soek steeds onverpoosd

Al bly die wysheid my ontwyk

En ek hou steeds goeie moed

Dat ek die eindpunt sal bereik

Waar die raaisel homself oplos

En die spieël uiteindelik bars

En ek die waarheid straks kan vasvang

Soos ‘n skelet in oer-ou hars